Quantcast
Channel: Slaaie | Maroela Media
Viewing all 43 articles
Browse latest View live

[Resep] Varkkebabs en boneslaai

$
0
0

Die sinergie van kosgeure bly vir my een van die lekkertes van eet. As twee eenvoudige bestanddele wat saam gebruik word ʼn nóg lekkerder geur tot gevolg het, het jy nie veel meer nodig nie. Dink maar net aan botterskorsie en kaneel, vis en suurlemoen of tamatie en vars basiliekruid.

Vir hierdie kebabs word varkvleis en appel gekombineer – ʼn bekende kombinasie. Suurlemoen is ʼn geurmiddel wat uitstekend by albei bestanddele pas en wanneer appel in ʼn soutgereg gebruik word, is tiemie ideaal. Vark en tiemie is ook ʼn bekende kombinasie en as hierdie elemente dus alles saam gebruik word, is dit sommer nog lekkerder, sonder dat dit ʼn gekompliseerde resep verg. Die kebabs kan oor die kole of in ʼn pan gerooster word, maar braai dit net tot dit gaar en steeds sappig is. Die vleis moet glad nie droog wees nie.

Die boneslaai wat in dié week se #kosblik gepak word, is blitsvinnig om te maak. ʼn Blikkie bone word gedreineer en dan met feta, songedroogde tamaties en sonneblompitte gegeur. Die gemarineerde tamaties is baie geurig en jy kan sommer die marinade as slaaisous gebruik.

Varkkebabs met appel

Resep aangepas uit Cooking from the Heart

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 2 e (30 ml) suurlemoensap
  • 2 e (30 ml) olyf- of avokado-olie
  • 2 e (30 ml) gekapte vars tiemie of origanum
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • swartpeper na smaak
  • 500 g varkboud of -skouer, oortollige vet verwyder en in blokkies gesny
  • 1 rooi soetrisse, ontpit en in stukkies gesny
  • 1-2 Pink Lady®-appels met die skil aan, ontpit, in agstes gesny en elk gehalveer

Metode:

  1. Meng die suurlemoensap, olie, kruie, sout en peper saam.
  2. Plaas die vleis in ʼn mengbak en bedek met die marinade.
  3. Marineer vir 30 minute tot 1 uur.
  4. Ryg vleis, soetrissie en appelblokkies op kebabstokkies. Braai oor matige kole en verf die kebabs met van die marinade terwyl dit vir 8-10 minute braai of tot net gaar – die vleis moet steeds sappig wees en die appel net gaar. Die kebabs kan ook oor matige hitte in ʼn pan gebraai word.

Witboneslaai met feta en songedroogde tamaties

Meng die volgende bestanddele saam vir ʼn vinnige slaai wat as stysel vir ʼn maaltyd of kosblik geniet kan word. Dreineer 1 x 410 g-blik witbone en meng met ’n skyf feta, in blokkies gesny; 6-8 gemarineerde songedroogde tamaties, in repies gesny; ’n groot handvol roketblare of ander kruie van jou keuse en sonneblomsade. Gebruik die tamatie-marinade as slaaisous, indien verkies of gebruik ʼn skeut olyfolie as slaaisous.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte met bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 


[Resep] Lensie-en-kruieslaai met tamatie

$
0
0

Lensie-en-kruieslaai met tamatie. (Foto: Verskaf)

Dis eksamentyd en soms vra dit baie motivering vir die kinders om by hul boeke te bly. As daar ʼn lekker peuselhappie beskikbaar is, kan dit dalk help. Maak hierdie maklike appelballetjies vir jou kinders om aan te smul. Dis ʼn aansienlik beter opsie as lekkergoed of sjokolade, want te veel suiker is beslis nie ideaal in die eksamentyd nie. Die eenvoudige kombinasie van neute, vars appel, speserye en sade is blitsvinnig om te maak.

Die lensieslaai is ʼn lekker alternatief vir ʼn stysel en perfek met ʼn braaivleis-ete oor die naweek of as bygereg met enige ander vleis, soos geroosterde hoender. Stysels soos rys, pasta of aartappels het dikwels ʼn baie hoë koolhidraatinhoud, sonder dat daar baie ander voedingswaarde in die gereg is nie. Vars bestanddele soos tamatie en komkommer met vars kruie is genoeg om dit interessant te maak.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 1 k (250 ml) rou bruin lensies
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 takkie vars roosmaryn of lourierblaar
  • 1 e (15 ml) gedroogde gemengde kruie
  • 1 knoffelhuisie, heel
  • 2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie
  • 3 ryp tamaties, in blokkies gesny
  • 3 e (45 ml) gekapte vars pietersielie
  • 3 e (45 ml) gekapte vars origanum of meer pietersielie
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • ½ komkommer, in blokkies gesny
  • ⅔ k (160 ml) bevrore ertjies, afgespoel

Metode:

  1. Plaas lensies, sout, roosmaryn, gedroogde kruie en knoffel in ʼn kastrol met 2½ k (625 ml) water. (ʼn AMC 20 cm Low is ideaal.)
  2. Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ʼn deksel vir 30 minute of tot die lensies net sag is. Dreineer deeglik.
  3. Verhit olie in ʼn braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en soteer tamaties tot net sag. Roer dit met die vars kruie by die lensies.
  4. Geur na smaak met suurlemoensap en peper. Laat afkoel en roer komkommer en ertjies by. Sit as ʼn slaai of bygereg met ʼn vleisgereg van jou keuse voor.

Pink Lady®-appelballetjies

Lewer ongeveer 18-20 balletjies.

Bestanddele:

  • 60 g (125 ml) gekapte rou makadamia-neute
  • 75 g (125 ml) gekapte rou amandels
  • 2 Pink Lady®-appels, met die skil aan grof gerasper
  • 3 e (45 ml) lynsaad
  • 2 k (500 ml) rou gerolde hawermout
  • 1 t (5 ml) gemaalde gemengde speserye
  • ⅓ k (80 ml) gedroogde rooi bosbessies of rosyntjies
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel

Metode

  1. Meng die twee soorte neute saam in ʼn voedselverwerker tot dit amper soos ʼn neutbotter lyk.
  2. Voeg die appel en die res van die bestanddele by die neutmengsel en meng tot dit amper soos koekiedeeg lyk.
  3. Rol eetlepelsvol van die mengsel in balletjies en pak in ʼn lugdigte houer. Bêre in die yskas vir 3-5 dae.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 

[Resep] Maalvleis-en-eierbakkies

$
0
0

Foto: Verskaf

Dié maalvleisbakkies is iets waarvoor my kinders baie lief is. Dis ’n basiese Italiaanse maalvleismengsel wat met geklitste eier gemeng en in kleiner porsies gebak word. Ek maak sommer ’n groot mengsel van die maalvleis en gebruik dit vir aandete. Terwyl ons aan tafel is, bak ’n ander gedeelte as dié bakkies vir kosblikke en die res van die maalvleis vries ek vir ’n volgende ete – sommer ’n paar goed in een skoot uitgesorteer.

In die winter is mens nie altyd lus vir ’n slaai nie, maar om seker te maak dat daar steeds genoeg vars produkte deel is in die week se etes, is ’n eenvoudige kombinasie van seisoenale bestanddele perfek. Probeer gerus hierdie verfrissende winterslaai met appel, komkommer, fetakaas en kruisement. Koljanderblare is ook nou beskikbaar en heerlik saam met appel. Selfs avokado kan deel wees van hierdie slaai.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 20 – 24 bakkies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
  • 500 g maer maalvleis
  • 1 ui, gekap
  • 1 selderystingel met die blare, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 2 wortels, gerasper
  • 10 ml (2 t) elk gedroogde tiemie en gemengde kruie
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • 15 ml (1 e) tamatiepasta
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 6 of 7 Nulaid jumbo-eiers, geklits

Metode:

  1. Verhit helfte van die olie in ’n groot braaipan (’n AMC 28 Chef’s Pan werk goed) en braai maalvleis tot verbruin. Skep uit en hou eenkant.
  2. Verhit die orige olie in dieselde pan en braai ui, seldery en knoffel vir ’n paar minute.
  3. Roer wortels, kruie, tamaties, tamatiepasta en sout met die maalvleis by. Verlaag die hitte, plaas die deksel op en prut vir 30-45 minute tot die maalvleismengsel gaar is. Die sous behoort ook te begin verdik want die mengsel moenie te waterig wees nie.
  4. Geur na smaak met suurlemoensap en peper. Laat heeltemal afkoel.
  5. Voorverhit oond tot 180 °C en smeer twee muffinpanne liggies met olie.
  6. Roer eiers baie goed deur die maalvleismengsel en skep in muffinpanne. Bak 20-25 minute of tot gaar en gestol.
  7. Laat ’n paar minute afkoel en skep versigtig uit. Laat afkoel en hou in die yskas tot dit in die kosblikke gepak gaan word.

Wenk

  1. As jy nie jumbo-eiers het nie, kan enige ander grootte werk, pas net die aantal eiers dienooreenkomstig aan. Gebruik bv 7 ektra-groot of 8 groot eiers.

 

Pink Lady®-appelslaai met komkommer en feta

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • ¼-½ komkommer, in blokkies gesny
  • 1 skyf fetakaas, in blokkies gesny
  • 2-3 Pink Lady®-appels met die skil, in blokkies gesny
  • ʼn groot handvol geroosterde sonneblomsaad
  • handvol kruisementblare
  • olyfolie om oor te giet

Metode:

  • Meng al die bestanddele saam en skink ’n bietjie olyfolie oor.
  • Sit voor as ’n bygereg of pak ’n porsie in ’n kosblik.

Kyk Maandae oggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet kanaal 144 vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood om die skakel na elke week se resepte te kry en besoek gerus haar splinternuwe webwerf, www.heleenmeyer.co.za vir nog smullekker idees. Haar resepteboek, Maak vyf is ook in Maroela se e-winkel https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

[Resep] Gestolde drielaagslaai

$
0
0

Foto: 50 Boerekos-geregte, Lapa-uitgewers

Hierdie slaai is perfek vir die lente wat vir ons loer!

Bestanddele

WORTELLAAG

  • 80 g (1 pakkie) lemoengeur-jelliepoeier
  • 250 ml kookwater
  • 250 ml fyngerasperde wortels

PYNAPPELLAAG

  • 80 g (1 pakkie) pynappelgeur-jelliepoeier
  • 250 ml kookwater
  • 410 g (1 blik) fyn pynappel, gedreineer
  • 250 ml gerasperde cheddarkaas
  • 250 g geroomde maaskaas

BEETLAAG

  • 80 g (1 pakkie) kersiegeur-jelliepoeier
  • 250 ml kookwater
  • 250 ml gerasperde gaar beet

Metode

  1. WORTELLAAG: Los die jellie op in die kookwater, voeg die wortel by en laat stol dit in ʼn ringvorm.
  2. PYNAPPELLAAG: Los die jellie op in die kookwater. Laat dit afkoel en voeg dan die pynappel, kaas en maaskaas by. Skep dit bo-op die gestolde wortellaag.
  3. BEETLAAG: Los die jellie op in die kookwater. Laat dit afkoel en voeg dan die beet by. Skep dit op die gestolde pynappellaag. Laat dit oornag in die yskas staan om heeltemal te stol.
  4. Keer die slaai op ʼn mooi bord uit en garneer dit met wortelrepies.

Bron: 50 Boerekos-geregte, Lapa-uitgewers

[Resep] Aartappelslaai

$
0
0

Aartappelslaai (Foto: Lapa-uitgewers)

Heerlike aartappelslaai om saam met die naweek se braaivleis te geniet!

Maak 6 porsies

Bestanddele:

  • 6 groot aartappels
  • 1 ui, baie fyn gekap
  • 4 agurkies, baie fyn gekap
  • 500 ml (2 k) mayonnaise
  • 187 ml (¾ k) kondensmelk
  • 5 ml (1 t) witasyn
  • knypie sout
  • 6 grasuie, gekap

Metode:

  1. Kook aartappels in water met genoeg sout tot mes se punt gemaklik daardeur kan steek.
  2. Dreineer en laat aartappels afkoel.
  3. Trek skille af en sny in blokkies.
  4. Meng ui, agurkies, mayonnaise, kondensmelk, asyn en sout, en roer by aartappels.
  5. Sit koud saam met gekapte grasuie voor.

Wenk:

Kondensmelk kan ook met 125 ml (½ k) strooisuiker vervang word. Roer strooisuiker by mayonnaise, laat ’n bietjie staan tot suiker opgelos is en meng goed.

BronVinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3
UitgewerLapa

[Resep] Koeskoesslaai met kaas en vrugte

$
0
0

(Foto: Lapa-uitgewers)

Perfek vir die warm weer!

Lewer 4 tot 6 porsies

Bestanddele

  • 375 ml (1½ k) appelsap
  • knippie fyn kaneel
  • 250 ml (1 k) koeskoes
  • 60 ml (4 e) avokado-olie
  • 100 g (1 pakkie) pekanneute, grofgekap
  • 8 gedroogde pere, fyngekap
  • 125 ml (½ k) granaatpitte (opsioneel)
  • 125 ml (½ k) vars bloubessies
  • 250 g (1 pakkie) aarbeie, gehalveer
  • 2 skywe fetakaas, in blokkies gesny
  • 15 ml (1 e) gekapte vars pietersielie
  • 2 grasuie, gekap

Metode

  1. Verhit appelsap en kaneel in kastrol tot kookpunt.
  2. Verwyder kastrol van hitte. Voeg koeskoes by en laat staan vir 10 minute.
  3. Roer koeskoes met vurk deur tot los van mekaar. Roer olie by en laat verder afkoel.
  4. Voeg oorblywende bestanddele by en roer liggies deur.

Bron: Vinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3

UitgewerLapa

[Resep] Koringslaai met mielies en lensies

$
0
0

Foto: Verskaf

Hierdie koringslaai-resep het ek al verskeie kere vir mense aangestuur. Elke keer wanneer iemand dit proe, wil hulle graag die resep hê. Dis heerlik as interessante styselgereg vir ’n braaivleis-ete of geroosterde hoender, en ook ’n alternatief vir die tipiese aartappelslaai. Maak dit sommer die dag vantevore, want die volgende dag is dit selfs nog lekkerder as al die geure ontwikkel het. Die Marokkaanse geure met suurlemoen, kaneel, komyn, kruisement- en koljanderblare is regtig lekker.

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele:

  • 250 ml (200 g) rou stampkoring
  • 1 heel kaneelstokkie
  • 750 ml (3 k) water
  • ’n knippie sout
  • 250 ml (1 k) bevrore of geblikte heelpitmielies, deeglik gedreineer
  • 1 x 410 g-blik lensies, gedreineer en afgespoel
  • 10 sagte (Turkse) gedroogde appelkose, in klein blokkies gesny
  • 75 ml (5 e) sultanas
  • 75 ml (5 e) sonneblomsaad, gerooster
  • 30-45 ml (2-3 e) elk grofgekapte vars koljander- en kruisementblare

Slaaisous

  • 125 ml (½ k) avokado- of olyfolie
  • 25 ml (5 t) appel- of witdruiweasyn
  • 40 ml (8 t) suurlemoensap
  • 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 7,5 ml (½ e) gemaalde komyn
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
  • 40 ml (8 t) gekapte vars koljanderblare
  • 20 ml (4 t) gekapte vars kruisementblare
  • sout en peper na smaak

Metode:

  1. Plaas stampkoring met kaneelstokkie, water en sout in ’n kastrol (’n AMC 20 cm Low is groot genoeg) en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag hitte en prut 30-40 minute met die deksel of tot net sag.
  2. Dreineer in ’n sif of vergiettes, spoel af met koue water en laat vir ’n paar minute afdrup. Skep in ’n groot mengbak en laat afkoel.
  3. Slaaisous: Klits intussen al die bestanddele saam en geur na smaak.
  4. Meng die orige slaaibestanddele, behalwe die vars kruie, versigtig met die koring en skink ⅔ van die slaaisous oor. Geur na smaak.
  5. Indien verkies, verkoel eers die slaai vir 1 uur in die yskas. Roer dan die orige slaaisous deur en garneer met vars kruie voor dit voorgesit word. Die slaai is ook die volgende dag heerlik in ’n kosblik.

Wenk

  1. Kekerertjies sal ook baie lekker wees in die slaai.

Pynappel met klapper en jogurt

Hierdie pynappelresep het net vyf bestanddele en is ideaal om as nagereg voor te sit. Dik skywe vars pynappel word in ’n pan gebraai en met gewone jogurt voorgesit. Die jogurt word met geroosterde klapper gegeur en ’n bietjie vars kruisement is perfek daarby. Dié nagereg is vinnig en maklik om te maak.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 1 pynappel, geskil
  • 45 ml (3 e) fyn klapper
  • 10 ml (2 t) avokado- of olyfolie
  • 175 ml ongegeurde jogurt
  • ’n handvol vars kruisementblare

Metode:

  1. Sny pynappel in 6 dik skywe.
  2. Voorverhit ’n braaipan oor matige hitte (’n AMC 24 cm Chef’s Pan is groot genoeg) en rooster die klapper sonder enige olie tot liggies goudbruin. Wees versigtig, want die klapper kan maklik brand. Skep uit.
  3. Verhit die olie in dieselfde pan en braai pynappel aan beide kante tot goudbruin en effens gaarder.
  4. Meng 30 ml van die klapper met die jogurt. Sit pynappel voor met die jogurt en strooi die res van die klapper oor. Garneer met vars kruisementblare.

Wenke

  1. Die resep werk uitstekend met ander vrugte soos pruime, perskes of appelkose wat ontpit en gehalveer is.
  2. Pak die pynappel en jogurt in aparte bakkies as jy dit vir ’n kosblik wil pak.

Kyk Maandae-oggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet (kanaal 144) vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood en besoek gerus haar splinternuwe webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir nog smullekker idees. Haar resepteboek Maak vyf is ook op Maroela se e-winkel, https://maroelawinkel.co.za/, beskikbaar.

 

[Resep] JOYA® appelhappies met grondboontjiebotter

$
0
0
Die appelhappies is selfs perfek vir daardie tye wanneer die kinders lus raak vir peusel en jy weet dat sjokolade of lekkergoed nie ideaal is vir helder breine nie.

[Resep] Murgpam­poentjie-&-eierslaai met lensies

$
0
0
Murgpampoentjie-noedels is deesdae ’n gewilde alternatief vir pasta.

Resep: Lekkerste slaai met lensies en eiervrug

$
0
0
Selfs mense wat nie eintlik opgewonde raak ook lensies of eiervrug nie, is altyd verras oor hoe baie hulle dié slaai geniet.

Resep: Slaai met botterskorsie en kekerertjies

$
0
0
Dié gereg kan op verskillende maniere gebruik kan word: van ʼn slaai tot ʼn ligte middagete of pak dit selfs in vir ʼn piekniek-ete.

Resep: Feestelike slaai met granaat en beet

$
0
0
Hierdie is ’n baie maklike resep en die kleure is ’n lus vir die oog.

Resep: Somer-tortillas met steak & slaai

$
0
0
Geniet hierdie tortillas buite onder die koeltebome of selfs langs die swembad.

Resep: Peppadew-en-spinasie-pastaslaai

$
0
0
’n Geurige en kleurryke dis om jou week goed mee af te sluit!

Resep: Vegetariese slaai

$
0
0
Dié vars slaai sal sommer ’n hup in jou stap sit!

Resep: Italiaanse somerslaai

$
0
0
’n Heerlike vars slaai om die nuwe week op ’n vars noot te begin!

Resep: Avokado-en-salmslaai

Resep: Armman-slaai

$
0
0
Maroela Media-leser André Marais sê die voorraad in sy koskaste was eendag skraps toe hy as uitweg sommer al die orige bestanddele daarin bymekaargegooi het.

Hap saam met Lochner: Koringslaai

$
0
0
Kyk hoe maak Lochner dié week ʼn lekker koringslaai!

Resep: Tamatieslaai

$
0
0
Dié tamatieslaai is kraakvars en blitsvinnig om te maak!
Viewing all 43 articles
Browse latest View live